TUISBLAD  


 


Geplaas 05 Maart 2010

Potch Herald

Gewapende roof skok

Cerise du Plooy

Skokgolwe het deur die dorp getrek toe verskeie inwoners Dinsdagaand omstreeks 19:15 in die Pick n Pay Mini Mark, op die hoek van Oranje en Paul Krugerstraat, beroof is.

Volgens die woordvoerder van die Carletonville SAPD, sers. Busi Menoe, het vier swaargewapende mans die winkel binnegegaan en ván die kopers van hul selfone, juwele en kontant beroof.

Me. Wilma Meintjies, een van die slagoffers van die roof, en haar seun, Willie, het uit die winkel gestap nadat hulle inkopies gedoen het.

"Toe ek in my motor is, het ‘n man met ‘n AK47 geweer die deur oopgeruk en geskree ‘get out, get out,’". Haar seun was ook reeds in sy motor agter haar toe dit gebeur. Die twee was in verskillende voertuie omdat haar seun haar na werk na die winkel gevolg het.

Meintjies sê die sleutel het tussen die sitplekke ingeval waar haar kantoorsleutels ook gelê het. Die rower het die kantoorsleutel opgetel en gevra of dit haar motorsleutel is. "Toe ek nee sê het hy langs my in die voertuig in geskiet."

Meintjies sê die rower het na haar seun ook geskiet. "Die koeël is deur sy motor se voorruit en deur een van die kantruite uit. "Hy het nog agter die stuurwiel gesit en is net-net gemis."

Toe Meintjies die winkel binnegaan het sy net mense op die vloer sien lê. "Daar was binne ‘n hele swetterjoel rowers met handwapens wat besig was om die mense te beroof."

Die rowers is met Meintjies se grys BMW weg, maar die voertuig is later die aand in Protea Glen in Soweto gevind.

Met druktyd kon geen verdere inligting bekom word nie. Lees aanstaande week meer.

To top


 
© Copyright 2006-2007 Herald
carletonvilleherald.com is the creation of Leandra van Rooyen.
All work remains the property of The Carletonville/Fochville Herald, unless expressly granted by written permission from the author or editor.
Individual articles remain the sole property of the original author.