‘n Bekende inwoner van Fochville is verlede week sleg aangerand deur ‘n blanke man wat saam met sy vrou en kind ‘n ryloopgeleentheid van haar ontvang het.
Mev. Maricky van Staden van Carletonville, het verlede Dinsdagaand, 17 Januarie, tot 19:00 gewerk by die klerewinkel waarvan sy die bestuurder is.
Sy het oppad na haar huis in Waters Edge eers by die Caltex vulstasie op die hoek van die R500 en Beesterstraat gestop om koeldrank te koop. “Net toe ek stop, besef ek dat ek nie skoene aanhet nie,” vertel die getraumatiseerde Van Staden, “en besluit om te ry want ek sal nie in die publiek sonder skoene aan loop nie.”
Van Staden het by die agterste uitgang van die vulstasie, wat in Canalstraat langs die verkeersafdeling uitloop, uitgery, maar terwyl sy stadig van die plaveisel wat ‘n deel van die vulstasie se parkeerterrein opmaak, probeer afry het omdat dit baie hoër as die teerpad is, is sy deur ‘n jong meisie genader. Van Staden skat dat die meisie skaars 20 jaar oud is en sy het ‘n oranje-rooi hemp en kortbroek aangehad, is baie skraal en kort en het ‘n skerp gesig met donker hare.
“Sy het ‘n huilende baba, wat nie ouer as ses of agt maande kan wees nie, op haar heup gehad. “Kan tannie ons dalk by die plotte aflaai,” het die meisie gevra.
“Ek het ‘n baie sagte plekkie vir kinders,” vertel van Staden, “en omdat daar ‘n klein babatjie wat gehuil het, betrokke was, het ek ja gesê.
Die volgende oomblik was die meisie en haar baba agter in die kar en het ‘n man, glo die meisie se man, ook in die kar ingespring en voor in die passassiers-sitplek gaan sit.
“Hy het donker krulhare,” vertel Van Staden, “met ‘n groot moesie op sy regter wang en klein, skrefie-oë.” Sy hou haar hande oor haar oë en probeer nog iets omtrent die man onthou. Dan bars sy uit in trane. Al wat sy nog kan onthou is dat hy ‘n blou en swart kraag, gholf-styl T-hemp en ‘n langbroek aangehad het.
Ná van Staden die paartjie gevra het hoekom die baba so baie huil, het die meisie se antwoord haar geruk. “Hy is honger en ons het nie geld nie,” het die meisie geantwoord. So met die ry, het van Staden R50 uit haar sonskerm gehaal en vir die meisie probeer gee, voordat die man dit gegryp het. Die meisie het dankie gesê vir die geld.
Van Staden het ‘n silwer sigaret-boksie voor in haar motor gehad. “Terwyl ons gery het, het die man my boksie summier gevat en in sy hemp se sak gedruk,” vertel sy, “sonder om vir ‘n sigaret of twee of selfs die boksie te vra.” Van Staden sê dat dit haar bietjie skrikkerig gemaak het.
Nietemin, het van Staden steeds met Canalstraat afgery in die rigting van Waters Edge soos deur die paartjie aangedui. “By die T-aansluiting met die veld voor ons, het hulle gesê dat ek regs moet draai en met ‘n nou grondpadjie wat deur die veld loop, moet afdraai,” vertel van Staden. “Hulle het gesê dat hulle daar op ‘n hoewe woo, en ek het ligte gesien wat gelyk het of dit ‘n plot huis dalk kon wees, en gedoen wat hulle gevra het,” sê Van Staden.
‘n Entjie in die veld in, het die paartjie aangedui dat sy ver genoeg gegaan het, en hulle verder sou stap. “Dankie tannie,” het die meisie gesê, en by die regter agterdeur van Van Staden se voertuig, baba steeds in haar arms, uitgeklim. “Ek het agtertoe gekyk en gesê dit is ‘n plesier,” vertel van Staden. “Toe ek weer links draai om na die man te kyk en hom te groet, het ek net ‘n harde hou teen die kop gevoel,” vertel sy onsteld.
Van Staden onthou net hoe die man haar aanhoudend teen die kop geslaan het met iets wat soos ‘n pyp gevoel het. “Ek onthou hoe hy heeltyd gevloek het,” vertel sy met trane in haar oë, maar sê dat sy nie seker is of hy haar gevloek het, en of hy net gevloek het nie. “Toe het alles net donker geraak en he thy my uitgelsaan.”
Ryloper-meisie help om vrou te vind
‘n BBM (BlackBerry Messenger) boodskap wat 21:55 van Van Staden se selfoon af gestuur is het die soektog na haar laat begin.
“Die vrou van die foon was in ‘n ongeluk naby Silver Oaks gewees, lyk nie of sy dit gaan maak nie. My man het gesê ons moet die foon vat, julle sal die simkaart in die kar kry,”** het die eerste boodskap van Van Staden se foon na haar eggenote, mev. Maggie van Staden, se foon gelees.
Maggie het ‘n boodskap teruggestuur waarin sy gevra het, “Wie is jy?” omdat niemand geantwoord het toe sy gebel het nie. “Mev. Lategan. Ek is jammer,” was die antwoord.
“Ek was by ‘n vriendin in Randfontein,” vertel Maggie, “en het so groot geskrik dat ons toe in die kar klim en jag na die R500.” Sy sê dat hulle op en af die hele R500 gery het, opsoek na haar vrou, maar niks gekry het nie. “Ek was byna dood van bekommernis.”
Maggie het haar vrou se foon weer probeer bel, maar weereens was die foon af. “Ek stuur toe weer ‘n boodskap waarin ek vra watter ambulans vir Maricky vervoer het,” vertel Maggie, wat self ook vir Netcare 911 werk. “As ek dit kon weet, sou ek haar makliker kon vind.”
Ongeveer 22:10 kry sy weer ‘n bbm. “My man het gesê ons moet die foon vat.” Daarna is die foon weer afgesit. “Naderhand wonder ek of die vrou dit nie verkeerd het en dalk Silverstar Casino bedoel nie,” vertel Maggie, maar selfs na ‘n soektog na haar vrou op daardie pad, was daar niks. Sy het haar vriendin ongeveer 00:00 by die huis gaan aflaai.
Oppad na die Carletonville polisiestasie kry Maggie ongeveer 00:46 weer ‘n boodskap. “Ons het ge hitch-hike. My man is mal. Die tannie het vir ons R50 vir kos gegee. My man het haar geslaan. Ek gaan die foon terugsit in die kar. Ek het vir my man gese ek het ‘n sak in die kar vergeet. Kom haal asseblief die tannie. Ek weet nie wat my man gaan doen as ek terugkom nie. Die tannie lyk okay, sy lê net.”
Sy gee toe ook die regte beskrwying van waar Van Staden in haar kar bewusteloos geslaan lê.
Maggie is na die plek waarheen sy verduidelik is. “Ek het haar kar daar in die donker veld sien staan, maar was bang om uit te klim, ingeval dit ‘n lokval is,” vertel sy. “Ek het my kar langs hare gestop, en probeer insien, maar omdat sy oor die passasiersitplek gelê het kon ek niks sien nie.”
Die polisie is gebel, en Maggie het ook mnr. Nicolhas Kennedy, een van haar kollegas en vriende gebel. Kennedy en sy familie was vinnig daar en toe kon hul sien dat Van Staden in die kar lê.
“Sy was so bewusteloos dat die klop aan haar kar se ruite en geskree nie gehelp het nie,” vertel Maggie. “Ons moes die kar begin skud sodat sy wakker kon word.”
“Nee, nee,” het van Staden gegil toe sy wakker word, dalk met die denke dat sy steeds aangerand word. “Dit het ons 15 minute geneem om haar te bedaar, en haar te kry om die kar deure vir ons oop te sluit,” vertel Maggie. Die kar-sleutels en haar foon is netjies op die matjie neergesit.
Die polisie het na bewering eers 01:45 by die toneel aangekom, en glo gesê dat hulle laat was omdat hulle gedink het dat dit net ‘n huismoles saak was.
“Daardie meisie het indirek Maricky se lewe gered,” vertel Maggie van die aanrander se meisie of vrou. “Ons is dankbaar teenoor haar, en kry haar jammer omdat sy tien teen een in ‘n verhouding is met ‘n man wat haar mishandel.”
Hoewel daar nog geen arrestasies gemaak is nie, word die saak deur sers. Jacques Nagel van die Carletonville SAPD se speurtak ondersoek. Enige persoon wat die man en vrou ken, moet hom asseblief so gou moontlik by 082 880 4611 skakel.