Home / Chaos na ongeluk

‘n Gedeelte van die P111-pad tussen Carletonville en Westonaria was Dinsdag vir ure gesluit na ‘n vragmotor wat beeste vervoer het, omgeslaan het.

  Die ongeluk het sowat 15:30 plaasgevind toe die bestuurder van die vragmotor, wat in die rigting van Westonaria onderweg was, net na die brug voor die afdraai na Driefontein na bewering vir iets in die pad uitgeswaai en die voertuig laat omslaan het. Die vragmotor se agterste sleepwa het op die ry-oppervlak te lande gekom terwyl die voorste sleepwa net langs die pad gelê het.

  Sover vasgestel kan word, was die vragmotor met 109 beeste van Namibië afkomstig.

  Hoewel die ongeluk aanvanklik nie te ernstig gelyk het nie, het nooddienspersoneel later agtergekom dat baie van die diere steeds in ‘n deel van die vragmotor se sleepwa vasgekeer is.

  Lede van die Carletonville DBV is gekontak om met die beseerde diere te help en ses beeste moes aanvanklik as gevolg van hulle beserings van kant gemaak word.

  Die voorste deel van die sleepwa, waarin sowat 40 beeste vasgekeer was, is later met ‘n hyskraan opgelig.

  DBV-personeel en ander helpers het nadergestaan om moontlik beseerde diere te help en kon verskeie uit die sleepwa red. Tussen 10 en 14 van die ander diere moes egter deur die DBV van kant gemaak word.

  “Dit was skokkend om die diere so te sien. Ons het alles probeer wat ons kon maar baie kon nie gehelp word nie,” het me. Marlene Howie van die Carletonville DBV aan die Herald gesê.

  Die baan vir voertuie wat vanaf Carletonville na Westonaria onderweg was, was as gevolg van die ongeluk tot na 20:00 gesluit en verkeer is in dié tyd na die Driefontein-pad herlei.

  Howie het na afloop van die ongeluk almal wat die DBV bygestaan het om die diere te help, bedank.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Thursday 2012-02-23
Please select your area for forecast
CPT 16° - 24° icon
PTA 21° - 34° icon
JHB 19° - 32° icon
BLOEM 12° - 28° icon
DBN 22° - 28° icon
PE 17° - 24° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs