Die Herald-uitgawe van 20 jaar gelede, die koerant van 7 Februarie 1992, het weer ‘n verskeidenheid positiewe en negatiewe berigte bevat.
‘n Seismiese gebeurtenis wat 2,6 op die Richterskaal gemeet het, het die lewens van 10 mynwerkers by die Western Deep Levels goudmyn geëis. Dié sterftes het die getal mynwerkers wat sedert die begin van die jaar by dié myn gesterf het, tot 17 laat styg. Na aanleiding van die voorvalle het die National Union of Mineworkers geëis dat ‘n spesiale kommissie van ondersoek na veiligheids- en gesondheidsprobleme by die myn gelas word. Volgens die algemene bestuurder van Anglo American se Wesrand area, mnr. James Mcluskie, het die myn egter reeds voorheen sonder sukses met unies en werknemersvereniging oor veiligheidsaspekte probeer vergader.
Tydens ‘n mediakonferensie wat later by dieselfde myn gehou is, is die versekering gegee dat die myne alles in hul vermoë sal doen om die veiligheidsrekord te verbeter. Twee mynwerkers het ook die vorige week by die Elandrand goudmyn gesterf. Volgens McLuskie het die myn beplan om met navorsing vas te stel wanneer daar ‘n rotsstorting gaan plaasvind, sodat werknemers dadelik die terrein kan verlaat. Andre strategieë, soos om werknemers beter op te lei, sou ook gevolg word.
Die polisie het die berigte naginbrekers wat Carletonville se inwoners maande lank op hol gehad het, vasgetrek. Bykans 50 inbrake was die vorige ses maande gepleeg terwyl mense gelê en slaap het. Bykans al die voorvalle het in Oberholzer en Uitbreiding 9 plaasgevind. Die deurbraak is gemaak ná ‘n inwoner een aand omstreeks 03:30 ‘n swart man voor sy huis in Paul Krugerstraat sien rondloop het. Hy het die man dopgehou toe hy oor oor die heining in sy buurman se erf geklim het. Die man, tesame met ‘n makker, is in hegtenis geneem. Voetspore wat op verskeie inbraak-tonele gevind is, is met die twee mans verbind.
Die sogenaamde “Swartkat” van Carletonville, ‘n 17-jarige seun, is in die landdroshof skuldig bevind op 12 aanklagte van diefstal uit motorvoertuie. Die minderjarige seun het skuld op die aanklagte, waartydens ware van sowat R12 000 gesteel is, erken. Die seun het glo saans, gekleë in ‘n donker sweetpak op sy BMX-fiets, radio’s, kontant en ander waardevolle items uit motorvoertuie gesteel wat by woonstelle rondom die OK Bazaars geparkeer was, gesteel.
Die pragtige Mariaan van Rensburg is as Mej. Mieliefees van Fochville gekroon. Verskeie ander aktiwiteite, waaronder ‘n fietswedren, marathon, gholfdag en watersport is ook tydens die Mieliefees aangebied.
Die SAVF Fochville Dienssentrum, wat verskeie dienste aan bejaardes op die dorp sal verskaf, is amptelik ingewy. Verskeie sale, ‘n moderne kombuis, haarsalon, biblioteek en kliniek is in die voltooide sentrum gehuisves.
Laerskool De Beer het tydens hul huissportbyeenkoms hul lankverwagte verversingslokaal geopen. Die luisterryke geleentheid is deur mnr. L.J. Botha, direkteur van onderwys, Wes-Randstreek en mnr. G.W. Nicholson, superintendent van onderwys in die kring, bygewoon. Die gebou, wat 227 vierkante meter beslaan, is teen ‘n bedrag van R192 950 gebou.