Inwoners wat aan die kant van Welverdiend woon, is boos omdat ander inwoners die oop grond tussen hul huise as stortingsterrein gebruik.
Volgens me. Talitha Frisby, wat in 3de Laan in Welverdiend woon, is die oop veld langs haar en haar man se huis al lank ‘n kopseer. Hul huis is langs die spruit wat uit die rigting van Deelkraal deur die dorp vloei, geleë en die oop veld langs dié spruit word deur baie inwoners as ashoop gebruik.
Volgens Frisby moes haar man reeds vier jaar gelede, toe hulle in die huis ingetrek het, hope gemors langs hul muur brand wat ander inwoners daar gegooi het.
Intussen het die toestand egter slegter in plaas van beter geword.
“Daar gaan bykans nie ‘n dag verby dat iemand nie iets hier kom aflaai nie,” het Frisby verlede week aan die Herald gesê.
Volgens Frisby sowel as mnr. Oskar Klinghardt, wat ‘n blok verder langs dieselfde spruit in 5de Laan woon, is dit veral welgestelde inwoners van dieselfde omgewing wat hul rommel in die veld strooi.
Frisby sê sy het byvoorbeeld onlangs ‘n ou kennis, wat in 4de Laan woon, op heterdaad betrap toe hy ‘n deel van die boom wat hy voor sy huis afgesaag het, op ‘n sypaadjie langs die spruit gaan gooi het.
Sy het ook al munisipale werkers op heterdaad betrap toe hulle gemors langs die pad stort.
Volgens Frisby het die werkers gesê dat hulle opdrag gegee is om die gemors op dié plek eerder as die vullisterrein te gooi omdat dit nader is.
Die enigste wyse hoe die area skoongehou kan word, is indien inwoners dit self doen.
“Ek moet per week twee tot drie vragte gemors wegry,” het Klinghardt aan die Herald gesê.
Volgens Klinghardt het hy al hulp aan van die morsjorse aangebied om van hul rommel weg te ry, Niemand het egter tot dusver sy aanbod aanvaar nie.
“Dit is nie arm mense wat hulle gemors hier weggooi nie, dit is mense wat net te lui is om dit na die vullisterrein toe te ry,” reken Klinghardt.
Intussen maak Frisby en Klinghardt nie net self al die rommel skoon nie, maar verseker hulle ook dat die gras in die area gesny word.
“Ek doen dit maar want dis al hoe ons die area netjies kan hou. Wat ek egter nie kan verstaan nie, is of dit nou regtig so moeilik is vir die mense om net hul eie rommel na die vullisterrein toe te ry?” het Klinghardt gewonder.
Volgens die inwoners het die Merafong munisipaliteit nog nooit ‘n poging aangewend om die gras in die area te probeer sny nie. Hulle verwyder ook nie die rommel in die area nie.
“Ek sny die gras maar self want dit bring die misdaad af. Solank die gras kort is, is daar nêrens waar die diewe kan wegkruip nie,” sê Klinghardt.
Klinghardt se moeite stop egter nie hier nie omdat hy ook die reëlings oor ‘n brug wat oor die spruit gebou is, in stand hou.
“Ek doen dit maar want die munisipaliteit steur hulle nie daaraan nie. Wat gaan gebeur indien iemand nie die kant van die brug sien nie en daar afry?” vra hy.
Die enigste antwoord wat van die Merafong munisipaliteit se kommunikasiebeampte, mnr, Slums Magodielo, na navrae oor die probleem ontvag is, is dat inwoners moet saamwerk om die omgewing skoon te hou. Volgens hom is dit, as gevolg van rommelstrooiery deur inwoners, moeilik om die gras in sekere areas kort te hou. Volgens die munisipaliteit probeer hulle egter wel om gras in ‘n siklus van agt weke te sny.