Klagtes van die publiek oor die polisie
is deesdae volop in die media. Soms geregverdig en soms nie.
Ook in Merafong is daar van tyd tot tyd
klagtes – soos nou weer vandeesweek waar iemand kla oor die hantering
van ‘n ongeluk waarin hulle seun dood is.
Sonder dat mens nog die polisie se kant
van die saak gehoor het is daar tog ‘n paar vrae na aanleiding van die
ouers se klagtes. Indien die kaart van die toneel, wat deel is van die
ongeluksverslag, korrek is, is daar geen aanduiding waar die botsing
was, waar die voertuie was na die botsing en of waar die liggaam van die
seun gelê het nie.
Dan is daardie kaart geheel en al
onbruikbaar, onvoldoende en niksseggend.
Mens kan ook verstaan dat dit vreemd is
dat die ouers so lank na die ongeluk eers in kennis gestel is van sy
dood.
Hopelik sal die polisie in hul reaksie
meer duidelikheid hieroor kan gee.
Ja, die publiek kan soms ook onredelik
wees. Daarvan is daar ook genoeg voorbeelde en ons verstaan dat die
polisie soms onder groot druk werk en baie sake het om te ondersoek.
Die polisie sal egter ook begrip moet hê
dat hulle meestal met die lief en leed van mense werk, dat dit baie
emosies uitlok en dat mense wil voel daar word met simpatie met hulle
gewerk.
Die publiek moet dus nie sommer net afleidings maak nie,
maar die polisie moet ook so optree dat hulle geloofwaardigheid nie
onder verdenking kom nie.