KERKARTIKEL  


 


Geplaas 30 Julie 2010
Wees 'n Bybel vir jou medemens

Ds. André Kok

NG Kerk leraar:

Lees Kolossense 4:2-6

‘n Mens hoor dikwels die gesegde dat die lewenswandel van die gelowige die Bybel vir die wêreld is. Christene moet met woord en daad die genade en liefde van God verkondig en uitleef.

God gebruik die lewenswandel van gelowiges om mense vir sy koninkryk te wen (1 Pet 3:1,2). Daarom moet ons teenoor die mense wat nog buite die kring van die gelowiges staan, optree soos wat God dit wil hê (Kol 4:5).

Met ‘n eerbare leefwyse moet ons die agting van die mense buite die gemeente afdwing (1 Tess 4:12). Ons moet altyd hoflik en vriendelik optree en met ons lewenswandel bevestig wat ons met die hart glo en met die mond bely (Rom 10:10).

Ons is wel nie "van die wêreld" nie, maar "in die wêreld" (Joh 17:11, 16) waar ons optrede met die hulp van die Heilige Gees die trefkrag en die aantrekkingskrag van die evangelie moet bevorder.

Ons omgang met ongelowiges moet die saak van die Here by hulle bevorder. Ons woorde moet altyd aangenaam en vriendelik wees, sodat dit die gesindheid van Christus weerspieël.

Ons moet niks doen wat die evangelie in ‘n ongunstige lig kan plaas nie.

Wat ons sê moet van goeie smaak getuig. In die grondtaal word gepraat van woorde wat "met sout besprinkel" word. Dié idioom het aangedui dat jy nie ligsinnighede en onsin kwytraak nie, maar dinge sê wat betekenisvol is.

Dit beteken dat ons gesprekke goed en opbouend moet wees volgens die eis van omstandighede (Ef 4:29, Kol 4:6).

Wanneer ons uitgevra word oor ons geloof, moet ons op die regte wyse antwoord (1 Pet 3:15). Ons woorde moet getuig van die erns en opregtheid van ons geloof.

Die Griekse uitdrukking "om die tyd uit te koop" (Kol 4:5, 1933/53 –vertaling) wil sê dat ons die tyd ten volle moet gebruik deur alle moontlikhede te benut.

Elke geleentheid moet benut word om ‘n positiewe invloed op mense wat nie christene is nie uit te oefen.

Gebed: Gee, o Here, dat my optrede altyd ‘n kragtige en effektiewe advertensie vir U en die evangelie sal wees!

To top


 

 

© Copyright 2006-2007 Herald
carletonvilleherald.com is the creation of Leandra van Rooyen.
All work remains the property of The Carletonville/Fochville Herald, unless expressly granted by written permission from the author or editor.
Individual articles remain the sole property of the original author.