|
Geplaas 05 Maart 2010
Pad
nou reg, of is hy?
Wysneus was onlangs uit sy nate om te
sien dat die munisipaliteit weer mooi nuwe strepe op die paaie in
Fochville se sentrale sakegebied begin verf het. Die ou tekens was al
plek-plek so verblyk dat dit ou Wysneus soms skeel oor sy neus laat kyk
om te sien waar hy nou eintlik moes ry.
Wysneus was skoon ingenome met die nuwe
strepe tot iemand hom daarop gewys het dat van die strepe geverf is oor
plekke in die pad wat begin stukkend gaan en binnekort reggemaak sal
moet word. Indien dié gate reggemaak word, sal dit beteken dat die
nuutgeverfde strepe ook daarmee heen is.
Hoe moeilik kan dit wees om eers die pad
reg te maak en dán die strepe te verf? Die munisipaliteit sê gereeld dat
hulle nie met huidige belastinggeld meer kan doen as wat reeds die geval
is nie.
Hoekom kan hulle dan nie seker maak dat
die geld wat wel daar is, reg bestee word nie?
Wysneus skrik vir motoriste
Wysneus het hom nou die dag boeglam
geskik toe iemand amper by die drierigting-stop op die hoek van Blyvoor-
en Oranjestraat bo-oor my jaag. "Toemaar, dis nog niks nie", sê ‘n
inwoner wat langs die kruising woon.
Wysneus het toe vir ‘n paar minute saam
met dié man gestaan en gekyk wat bestuurders by die kruising doen.
Tot Wysneus se verbasing het omtrent net
een uit elke vyf voertuie vaagweg ‘n poging aangewend om te stop.
Dit skep ‘n gevaarlike situasie want
hoewel mense wat aan die onderkant van Oranjestraat na die kruising ry
dié kan sien wat van Blyvoorstraat af kom, kan hulle nie diegene sien
wat om die draai uit die rigting van Coronationstraat na die kruising
aangery kom nie.
Kom nou, is dit dan só moeilik om die
verkeersreëls te gehoorsaam, of sal mense dit eers doen wanneer hulle ná
‘n ongeluk in die hospitaal lê?
To top
|